Geestelike Eienskappe (#3187)

Skep in my 'n suiwer hart, o my God, en vernuwe in my 'n rustige gewete, o my Hoop! Deur die gees van krag bevestig U my in U Saak, o my Bes-Beminde, en deur die lig van U heerlikheid maak U weg aan my bekend, o Doel van my begeerte! Hef my op tot in die hemel van U heiligheid deur die krag van U oortreffende mag, o Bron van my wese, en verbly my deur die luggies van U ewigheid, o U Wat my God is! Laat U ewigdurende melodieë rustigheid oor my adem, o my Metgesel, en laat die weelde van U oue aangesig my verlos van alles buiten U, o my Meester, en laat die tyding van die openbaring van U onverganklike Wese my vreugde bring, o U Wat die mees geopenbaarde van die geopenbaardes is, en die mees verborge van die verborgenes!

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3188)

Van die welriekende strome van U ewigheid, gee my te drink, o my God, en van die vrugte van die boom van U wese stel my in staat om te proe, o my Hoop! Van die kristalfonteine van U liefde laat my drink, o my Glorie, en onder die skaduwee van U ewige voorsienigheid laat my woon, o my Lig! Binne die weiland van U nabyheid in U teenwoordigheid, maak dit moontlik vir my om te swerf, o my Beminde, en aan die regterhand van die troon van U genade, laat my sit, o my Begeerte! Van die welriekende luggies van U vreugde laat 'n sug oor my gaan, o my Doel, en na die hoogtes van die paradys van U werklikheid laat my toegang verkry, o my Vereerde Een! Laat my na die melodieë van die duif van U eenheid luister, o Luisterryke Een, en deur die gees van U krag en U mag verlewendig my, o my Versorger! In die gees van U liefde hou my standvastig, o my Helper, en in die pad van U welbehae maak my voetstappe stewig, o my Skepper! Binnekant die tuin van U onsterflikheid, voor U aangesig laat my vir ewig vertoef, o U Wat barmhartig aan my is, en op die setel van U glorie vestig my, o U Wat my Besitter is! Na die hemel van U vriendelike geodheid hef my op, o my Verlewendiger, en na die Dagster van U voorligting lei my, o U my Aantrekker! Voor die openbaringe van U onsigbare gees, laat my roep om teenwoordig te wees, o U Wat my Oorsprong en my Hoogste Wens is, en laat my terugkeer na die wese van die geur van U prag, wat U sal duidelik maak, o U Wat my God is!

Sterk is U om te doen wat U behaag. U is, voorwaar, die Mees Verhewe, die Alglorieryke, die Allerhoogste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3189)

O my Here! Maak U prag my voedsel, en U teenwoordigheid my drank, en U welgevalle my hoop, en lof van U my optrede, en aandenking aan U my deelgenoot, en die krag van U oppermag my steun, en U woning my tuiste, en my woonplek die setel wat U heilig gemaak het van die beperkings op hulle gelê deur diegene wat soos deur 'n sluier van U uitegesluit is.

U is, voorwaar, die Almagtige, die Alglorieryke, die Kragtigste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3190)

O my God, die God van mildheid en genade! U is daardie Koning deur Wie se gebiedende woord die hele skepping in die lewe geroep is; en U is daardie Almilddadige Een Wie se dienaars se dade nooit Hom verhinder het om Sy guns te bewys nie, nòg het hulle die openbaringe van Sy mildheid verydel.

Ek smeek U om hierdie dienaar dít te laat bereik wat die oorsaak van sy verlossing en elke wêreld van u wêrelde is. U is, voorwaar, die Almagtige, die Kragtigste, die Alwetende, die Alwyse.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3191)

Geloof sy U Naam, o Here my God! Ek is U dienaar wat die koord van U tere seëninge vasgegryp het, en aan die soom van U mildheid gekleef het. Ek soebat U by U Naam, waardeur U alle geskape dinge, beide die sigbare en die onsigbare, onderwerp het, en waardeur die asem wat die lewe inderdaad is, oor die hele skepping gewaai is, om my versterk met U krag wat die hemele en die aarde omvat het, en my te beskerm teen alle siektes en beproewinge. Ek getuig dat U die Here van alle name is, en die Bepaler is van alles wat U mag behaag. Daar is geen God behalwe U nie, die Almagtige, die Alwetende, die Alwyse.

Beskik U vir my, o my Here, wat my in elke wêreld van U wêrelde sal baat. Voorsien my, dan, van wat U vir die uitverkorenes onder U skepsels neergeskryf het, wat nòg die blaam van die blameerder, nòg die geroep van die ongelowige, nòg die vervreemding van dié wat hulle aan U onttrek het, teruggehou het om hulle nan U te wend.

U is, voorwaar, deur die krag van U opperwese, die Hulp in Gevaar. Geen God is daar behalwe U nie, die Almagtige, die Kragtigste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3192)

Hy is die Barmhartige, die Almilddadige!

O God, my God! U roepstem het my aangetrek en die stem van U Pen van Heerlikheid het my wakker gemaak. Die stroom van U heilige woorde het my verruk en die wyn van U besieling het my in verrukking gebring. U sien my, o Here, losgemaak van alle dinge behalwe U, hou vas aan die koord van U mildheid en verlang na die wonders van U guns. Ek vra U, by die ewige golwe van U vriendelike goedheid en die skynende ligte van U tere sorg en guns, om dit te vergun wat my na aan U sal trek, en my ryk sal maak in U rykdom. My tong, my pen, my hele wese, getuig van U krag, U mag, U genade en U mildheid, dat U God is en dat daar geen ander God behalwe U is nie, die Kragtige, die Magtige.

Ek getuig op hierdie oomblik, o my God, van my hulpeloosheid en U oppermag, my swakheid en U krag. Ek weet nie wat my baat of benadeel nie; U is, voorwaar, die Alwetende, die Alwyse. Beskik U vir my, o Here, my God en my Meester, dit wat my tevrede sal laat voel met U ewige verordening en my in elke wêreld van U sal laat floreer. U is in der waarheid die Goedgunstige, die Milddadige.

Here! Keer my nie weg van die oseaan van U rykdom en van die hemel van U genade nie, en beskik vir my die goeie van hierdie wêreld en die hiernamaals. Voorwaar, U is die Here van die genadestoel, op die troon in die hoogste geplaas; daar is geen ander God behalwe U nie, die Een, die Alwetende, die Alwyse.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3193)

Hy is die gebed-horende, gebed-verhorende God!

By U heerlikheid, o Beminde Een, U die gewer van lig aan die wêreld! Die vlamme van afsondering het my verteer en my eiesinnigheid het my hart binne my gesmelt. Ek vra U, by U Allergrootste Naam, o U die Begeerte van die wêreld en die Teer-Beminde van die mensdom, om te vergun dat die luggie van U besieling my siel mag steun, dat U wonderbaarlike stem my oor sal bereik, dat my oë U tekens en U lig mag sien soos bekend gemaak in die openbaringe van U name en U kenmerke, o U in Wie se greep alle dinge is!

U sien, o Here my God, die trane van U begunstigdes, vergiet omrede hulle afskeiding van U, en die angste van U toegewydes in hulle verheid van U Heilige Hof. By U krag, wat alle dinge beheers, sigbaar en onsigbaar! Dit betaam U bemindes om trane van bloed te giet vir dit wat die getroues aan die hande van die boses en die onderdrukkers op aarde wedervaar het. U sien, o my God, hoe die goddeloses U stede en U ryke omring het! Ek vra U by U Boodskappers en U verkorenes en by Hom waardeur Wie die standaard van U goddelike eenheid onder U dienaars ingeplant is, om hulle met U mildheid te beskerm. U is, voorwaar, die Goedgunstige, die Almilde.

En weer eens vra ek U by die soet buie van U genade en by die golwe van die oseaan van U guns, om vir U heiliges dit te beskik wat hulle oë sal vertroos en hulle harte sal opbeur. Here! U sien hom wat kniel, smagtende om op te staan en U te dien, die dooie wat roep vir die ewige lewe uit die oseaan van U guns en smeek om na die hemele van U rykdom te sweef, die vreemdeling wat verlang na sy huis van glorie onder die troonhemel van U genade, die soeker wat deur U genade na U deur van mildheid haas, die sondige wat keer na die oseaan van vergifnis en kwytskelding.

By U oppermag, o U Wat in die harte van die mense verheerlik is! Ek het na U toe gekeer, my eie wil en begeerte verlatende, sodat U heilige wil en welbehae in my mag regeer en my rigting mag gee in ooreenstemming met dit wat die pen van U ewige verordening vir my bestem het. Hierdie dienaar, o Here, alhoewel hulpeloos, keer na die Sfeer van U Mag, alhoewel verneder, maak haas na die Daeraad van Heerlikheid, alhoewel behoeftig, verlang na die Oseaan van U Genade. Ek smeek U by U guns en mildheid, werp hom nie weg nie.

U is voorwaar die Almagtige, die Vergewer, die Medelydende.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3194)

O God! Verkwik en verbly my gees. Reinig my hart. Verlig my vermoë. Ek lê al my sake in U hand. U is my Gids en my Toevlug. Ek sak nie langer treurig en bedroef wees nie; ek sal bly en gelukkig wees. O God! Ek sal nie langer vol angs wees nie en ek sal my nie laat kwel deur moeilikhede nie. Ek sal nie stilstaan by die onaangename dinge van die lewe nie.

O God! U is meer 'n vriend teenoor my as wat ek teenoor myself is. Ek wy my toe aan U, o Here.

'

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3195)

O my God! O my God! Heerlikheid sy aan U omdat U my aan die belydenis van U eenheid bevestig het, my na die woord van U enkelvoudigheid aangetrek het, my met die vuur van U liefde aan die brand gesteek het, en my besig gehou het met U melding en die bediening van U vriende en diensmaagde.

O Here, help my om sagmoedig en beskeie te wees en versterk my in die afsnyding van myself van alle dinge en in die vashouding aan die soom van die gewaad van U heerlikheid, sodat my hart met U liefde mag gevul word en geen ruimte vir die liefde van die wêreld en gehegtheid aan sy eienskappe oorlaat nie.

O God! Heilig my van alles behalwe U, maak my skoon van die onsuiwerheid van sondes en oortredings, en laat my 'n geestelike hart en gewete besit.

Voorwaar, U is genadig en, voorwaar, U is die Vrygewigste, Wie se hulp deur alle mense gesoek word.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3196)

O my Here! O my Here! Hierdie is 'n lamp wat deur die vuur van U liefde aangesteek is en wat brand met die vlam wat in die boom van U genade ontbrand het. O my Here! Vermeerder sy ontvlamming, hitte en vlam, met die vuur wat in die Sinaï van U Openbaarwording aangesteek is. Voorwaar, U is die Bevestiger, die Helper, die Kragtige, die Vrygewige, die Liefhebbende.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3197)

O my God! O my God! Hierdie dienaar van U het genader tot U, swerf geesdriftig in die woestyn van U liefde, wandel op die weg van U diens, U gunste afwagtend, hopende op U milddadigheid, vertrouende op U koninkryk en besiel met die wyn van U gawe. O my God! Vermeerder die ywer van sy toegeneentheid aan U, die bestendigheid van sy lof vir U en die gloed van sy liefde vir U.

Voorwaar, U is die Vrygewigste, die Here van oorvloedige genade. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Vergewende, die Barmhartige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Geestelike Eienskappe (#3198)

Hy is God!

O God, my God! Hierdie is dienaars aangetrek in U dae deur die geure van U heiligheid, aan die brand gesteek deur die vlam wat brand in U heilige boom, antwoord op U roepstem, verkondig U lof, ontwaak is deur U luggie, opgewek deur U soet smaaklikhede, aanskou U tekens, verstaan U verse, luister na U woorde, glo U Openbaring en verseker is van U vriendelike goedheid. Hulle oë, o Here, is op U koninkryk van skitterende glorie gerig, en hulle aangesigte is na U gebied in die hoogte gewend, hulle harte klop met die liefde van U stralende en heerlike prag, hulle siele verteer deur die vlam van U liefde, o Here van hierdie wêreld en die wêreld hierná, hulle lewens sied met die gloed van hulle verlange na U en hulle trane is om U onthalwe uitgestort.

Skuil hulle binnekant die vesting van U beskerming en veiligheid, behou hulle in U waaksame sorg, kyk op hulle met die oë van U voorsienigheid en genade, maak hulle die tekens van U goddelike eenheid wat dwarsdeur alle streke geopenbaar is, die standaarde van U mag wat bo-oor U wonings van grootheid waai, die skynende lampe wat met die olie van U wysheid in die gloeilampe van U leiding brand, die voëls van die tuin van U kennis wat op die hoogste takke in U beskuttende paradys sing, en die leviatans van die oseaan van U mildheid wat deur U opperste genade in die peillose dieptes plons.

O Here, my God! Nederig is hierdie dienaars van U, verhef hulle met U opperste mag; verneder, bestee aan hulle U heerlikheid in U allerhoogste ryk; arm, verryk hulle in U groot gebied. Beskik U dan vir hulle al die goeie wat U in U wêrelde bestem het, sigbaar en onsigbaar, begunstig hulle in hierdie wêreld, verbly hulle harte met U besieling, o Here van alle wesens! Verlig hulle harte met U blye tydings, wat uit U alglorieryke Stand versprei is, maak hulle stappe stewig in U Allergrootste Verbond en versterk hulle lendene in U ferme Testament, deur U mildheid en beloofde barmhartigheid, o Goedgunstige en Genadige Een! U is, voorwaar, die Barmhartige, die Almilde.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

